Eenkant

Ag jinnekietog …

4 Apr

Ag jinnekietog – ek raak elke keer verbouereerd as ek hier kom en dan lyk alles so bleddie intimiderend!

Ek kry binne oomblikke ‘n warm gloed van benoudgeid as die leë blad vir my so lê en lag.  Ek kyk na mense se blogs wat elke dag getrou blog, en wonder en beny hul die onuitblusbare put waaruit hul woorde tuimel.  Moet hul iets drink of rook voordat hul skryf?  Moet mens baie hêng-ups hê sodat jy die opgekroptheid hier net kan uitstort soos my wasmasjienwater wat ek deesdae laat uitskiet buite in die slootjie om uiteindelik erens in ‘n bedding te beland en een of ander plant van die somer se droogte te red?

Behoort mens diep te dink en jou denke en tobbery vir ure lank eers in ‘n netjiese word-dokumentjie uittik, dit bietjie poliesh en skuur en skaaf todat dit skaflik en in sogenaamde aanvaarbare taal vir die hele heelal voorgesit word?

Of is dit dalk ‘n plekkie waar sogenaamde beheersde en gerespekteerde individue letterlik hulself toelaat om als oorboord te gooi en ‘n totale gedaanteverwisseling te ondergaan en woorde en tale te gebruik wat hul andersins nooit eers sal toelaat om hul denke se verwysingsraamwerk te oortree nie?

Is daar dalk ‘n blourokkietannie wat wanneer sy agter die skermpie inskuif in haar verbeelding visnetkousies en handskoene aantrek wat tot by die elmboë kom, so ‘n hasierige outfit wat haar nr 32 tieties verander  in 38E uitpeulpramme, haar dowwe bolla laat lostuimel in ‘n wilde woeste rooi krullebol en haar preutse lippies laat verander in ‘n pruilende bloedrooi vollipmond?

Image

Foto vanaf Internet

Ek wonder maar net – wie is hierdie  mense wat agter woorde skuil.

Ek het reggekom met ‘n kiekie, ek soek die ‘justify’ knoppie, ek wil graag die font groter maak en is hier dan nie ‘n preview knoppie nie?  Ag te hel met dit – nou gaan ek maar net publish post druk en hoop vir ‘t beste.