Kuikens

18 Jun

Vanoggend vroeg het die tarentale soos gewoonlik die werf vol geskrop en ek is nou al gewoond aan ‘n piepende kleintjie wat benoud van sy ma geskei word – om gewoonlik weer later herenig te word.  Ek het ook altyd ingegee wanneer my kuikens meer as 3 keer gepiep  het – en als laat val om hul te red.  Soos hul ouer geraak het het ek probeer leer om net die desibels rerig hard te draai wanneer hul rerig benoud is – sodat ek kon skei tussen opgewonde gepiepengeid en benoude gepiepengeid.  Dit het meestal gewerk …

Om terug te kom na die geskeide piepende tarentaalkuiken – in elkgeval – die gepiepery het hard geword, dan stiller geword, dan harder geword en stiller geword en dan met volle volume die hoogste desibel bereik.  Ek was besig om my eerste koppie koffie te maak en die agtergrondgeluide nie baie ernstig opgeneem nie – jy moet verstaan – daar is omtrent 4 of 5 tarentaal families op enige gegewe tyd op die werf. …. en ‘n HELE klomp weke het verbygegaan!!!!

Ag ek gaan nou nie eers doekies omdraai nie – hierdie ‘draft’ lê al te lank hierin wordpress en nou wonder ek natuurlik wat was nou eintlik die draad van my storie!  Gmf …  daar’s nie meer tarentaalkuikens in my tuin nie – net die 2 groot kuikens wat nog in die huis bly.  Die ander dag hoor ek ‘n verskriklike gepiep hier naby die venster en ek gaan kyk toe en daar’s twee voëls wat albei opgewonde raak oor die enigste proteablom – daar hoog.  En die een is besig in die blom met sy lang bek en ek’s seker hy’t aspris sy vlerke so gedraai dat die son al die kleure van sy vere vir my wys.  Nogal indrukwekkend.  In elk geval – die ander voël piep asof dit die laaste blom in die wêreld was terwyl hy geduldig wag dat die een met die mooi flashy vlerke homself amper binne in die proteablom verdrink.   Ek het nog nooit so ‘n ge gevogelte gekerm gehoor nie!  En toe?  Toe is die kermende vogeltjie altyd ‘n baba – ‘n groot uitgevrete baba wat sy bek hou terwyl hy dit wyd oopmaak sodat sy ma haar snawel volbelaai met varsgesuigde proteasap leegmaak.  Kan jy nou meer … die baby was groter as sy Ma!

Dit laat my dink aan my eie 2 kuikers ….. tweede gmpf …. hul is albei groter as ek en hul kerm ook vir kos / geld / klere / koffie / isdaar-dan-niks-lekkers-in-hierdie-huis-nie / kan die heater maar nie aangesit word nie / ek kry SO koud …. ellelange gekermengeid …. maar van koppies was of die wasser volpak of die vuur maak voor Pappie huistoe kom of self hul bed opmaak!  Kan jy glo – lyk my dieselfde met daardie voël se baby!

Ek was so vies vir die arme Ma-voël se part dat sy so uitgebuit word dat ek my hande vervaard geklap het sodat die baby kon wegvlieg en die hygende Ma in vrede ‘n laaste suig uit die amper leeggesuigde protea kon kry.

Ek wens nogal dat iemand hier by my huis bietjie wil kom hande klap dat die kuikens van my bietjie kan wakkerskrik!

 

Maar, voor ek te veel kerm is ek ook diep diep dankbaar vir my raasbek uitgevrete vogeltjies …. nes ou blinkvlerkvoëltjie in my proteaboom – is ek ook maar net ‘n Ma – en die ma-instink in my vermurwe telkens onkant.  Wanneer my meisiekind ooparm van die hek af gestorm kom …. ‘maaaaaami – ek het jou vandag gemis’, of as sy my vertel dat haar vriendinne dink ek lyk so jonk vir my jare.  (waar’s my lipstiek nou weer voor die klokkie lui).  En as my behaarde, bebaarde lang-arms en bene my met een arm druk teen sy bors en die ander een ‘n koppie tee vashou – met baie melk – nes ek daarvan hou.

Lekker dag – wie jy ookal is wat nou nog lees.

Ag – en hier’s sommer iets wat my altyd laat smile.

Jy’s my Machiato …

 


 

Lewer kommentaar