Ag jinnekietog …

4 Apr

Ag jinnekietog – ek raak elke keer verbouereerd as ek hier kom en dan lyk alles so bleddie intimiderend!

Ek kry binne oomblikke ‘n warm gloed van benoudgeid as die leë blad vir my so lê en lag.  Ek kyk na mense se blogs wat elke dag getrou blog, en wonder en beny hul die onuitblusbare put waaruit hul woorde tuimel.  Moet hul iets drink of rook voordat hul skryf?  Moet mens baie hêng-ups hê sodat jy die opgekroptheid hier net kan uitstort soos my wasmasjienwater wat ek deesdae laat uitskiet buite in die slootjie om uiteindelik erens in ‘n bedding te beland en een of ander plant van die somer se droogte te red?  

Behoort mens diep te dink en jou denke en tobbery vir ure lank eers in ‘n netjiese word-dokumentjie uittik, dit bietjie poliesh en skuur en skaaf todat dit skaflik en in sogenaamde aanvaarbare taal vir die hele heelal voorgesit word?  

Of is dit dalk ‘n plekkie waar sogenaamde beheersde en gerespekteerde individue letterlik hulself toelaat om als oorboord te gooi en ‘n totale gedaanteverwisseling te ondergaan en woorde en tale te gebruik wat hul andersins nooit eers sal toelaat om hul denke se verwysingsraamwerk te oortree nie?

Is daar dalk ‘n blourokkietannie wat wanneer sy agter die skermpie inskuif in haar verbeelding visnetkousies en handskoene aantrek wat tot by die elmboë kom, so ‘n hasierige outfit wat haar nr 32 tieties verander  in 38E uitpeulpramme, haar dowwe bolla laat lostuimel in ‘n wilde woeste rooi krullebol en haar preutse lippies laat verander in ‘n pruilende bloedrooi vollipmond?

 

Image

Ek wonder maar net – wie is hierdie  mense wat agter woorde skuil.  

Ek het reggekom met ‘n kiekie, ek soek die ‘justify’ knoppie, ek wil graag die font groter maak en is hier dan nie ‘n preview knoppie nie?  Ag te hel met dit – nou gaan ek maar net publish post druk en hoop vir ‘t beste.

Dis weer Krismistyd

18 Dec

Wat is dit met die tyd van die jaar wat mens so laat verlang?

Ek verlang na Ma en haar ‘hellokind’ as sy my sien en haar sagte grys krulle teen my wang

Ek mis haar ‘wag’nbietjie’ as sy die telefoon antwoord en die gehoordingetjie uit haar oor haal

Ek mis die blydskap in haar 95 jaar oue oe-e (waar is die damn oemlat vir die e nou weer?) – as sy my sien by die deur inkom van haar kamertjie

Ek mis die kinderlike blygeit in haar oe-e wanneer ek ‘n blommigheid uit my tuin vir haar gebring het

 

 

Ek verlang na die bekende kontoere van haar hande en ek tob ingedagte  terwyl ek haar trouring aan my middelvinger vroetelend streel

Ek verlang na haar bekende silhoe-et in die rottangstoel wat ek spesiaal vir  haar gekoop het

Ek verlang na die bekende tokklikgeluid van haar kierie as sy die gang afgekom het

Krismistyd – ai Ma ek verlang …

 

 

 

 

‘Elsies, Barro, Uintjies en Boetabessies …’ en my liewe Ma

2 Sep

Ek sit steeds Ma se Boek dikwels neer – want ek sukkel maar elke nou en dan met ‘n lastige knop in my keel en ‘n beklemming om my  hart.

Ma het grootgeword in die Hopefield Distrik aan die Weskus.  Haar Pa het ‘n plaas bestuur daar.  Swaar tye.  Arm tye.  Ma is 1914 gebore … so nou kry mens ‘n idee hoe lank terug was dit.

Ma skryf, …’Vrugte was skaars. Pa het darem kwepers gekry by een van die plase en dit rypgemaak bo op die kas en vir die winter gehou’ …en … ‘die velde was baie mooi in die lente en ons kinders het volop veldvrugte geëet.  Bv Elsies (so ‘n rankpeul met sappige melkvleis in die binnekat), Barroo, (groei onder teen die rietpolle), uintjies (ook ‘n knolkos), skilpadbessies, boetabessies, ens.’

Ma en die res van Ouma se kinders moes destyds van die plaas trek nadat Oupa skielik aan ‘n gebarste blindederm oorlede is.  Hy is  op die plaas begrawe en Ma was nooit weer terug nie.  So ‘n klompie jare gelede het ek die plaas gaan soek en gekry.  Die gawe  boer het my my Oupa se graf gaan wys, en ek het later my liewe Ma na amper 80 jaar teruggeneem plaas toe – en haar Pa (my Oupa) se graf gaan wys. So ver soos ons gery het, het die wonderlikste memories uit haar mond geborrel – soos juwele wat lanklaas uitgepak was.

Dit was ‘n juweel van ‘n dag saam met Ma en in ‘n skatkamer in my hart gebêre.

 

 

 

 

Ma se boek – sonder 20 tissues

31 Aug

Ek wonder waar is die lekker kuierblogs? Ek sal maar more weer kom inloer.

Nou gaan ek vireers maar in die bed klim met ‘n boek. En nie sommer so ‘n boek nie. Jy sien, my liewe Ma (die engele het haar kom haal toe sy 95 en en half was) het vir my 2 handgeskrewe boeke gelos. En tot nou kon ek dit nie lees sonder om in ‘n hopie hartseer te beland nie. Nou, na ‘n jaar en ‘n half, het ek weer op Ma se boeke afgekom – en toe ek op die 4de bladsy nog kon lees sonder dat my oë 20 tissues nodig gehad het, het ek geweet – ek sal nou Ma se boeke kan lees.

Tags:

En nou bid ek ..

31 Aug

En nou bid ek dat hierdie blog in iets sal materialiseer …

Ek wil graag ‘n kiekie hier insit, maar na een lang glasie wyn, en ‘n paar uur word ek grys.

Is dit veronderstel om moeilik te wees? .. of kort ek nog  ’n glasie wyn vir die senuwees.

 

 

ek dink ek het dit … ek voel half of ek handeklap kort.

 

Die volgende is nou om die foto bo aan die blog te verander … werk die blog?  ek wonder.  Dalk is dit soos wanneer mens loop in die tuin en fluit – net die paddas luister, maar hul sê niks.

Tags:

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.