Wanneer die Aandblom blom

6 Okt

So is daar nog water onder die brug sedert die meisie laas hier was.  So skyn ek maar ‘n liggie hier in die donker en ek wonder of hier nog iets aangaan.  Lyk maar bleddie vervelig vir my.  Hoop nie dit ruik al muf van afskeep nie.

Wat sal ‘n meisie nou sê na so ‘n lang stilstuipe – askies?  Hoekom sal ek ‘n verskoning probeer maak vir my skaarsheid?  Beskou my maar soos die reuk van ‘n skaars en ontwykende aandblom wat net so nou en dan in die vroegsomer op ‘n windstil aand haar skugter aroma suinigerig uitdeel.

Dis weer Lente hier naby die berg waar sy nou bly.  Hier’s ‘n nuwe ritme by haar nuwe blyplek wat sy nog gewoond moet raak.  In die winter raak die winterwind baie moerig en in die somer probeer die son ‘n gat in die dak brand.  Sy onderneem om vriende te maak  met die moerige winterwind en die helse somerson maar dit neem tyd.  Dalk sal die boom wat sy op erfenisdag geplant het troos.  Dalk sal die wind haar moerigheid in die takke kom rus in die winter.  Dalk sal die son bly wees oor die nuwe boom se grasgroen blare, die jong boompie jammer kry en sy warmste sonstrale liewer noordpool toe neem om vir die sonskyn ontneemde mense te gaan skyn. Ja, die meisie hoop so.

Die meisie skop nes in haar nuwe nes en dit neem mos tyd.  Sy het darem ‘n aandblom geplant.  Dalk ruik jy dit weer – wanneer jy dit glad nie verwag nie, in die vroegsomer op ‘n windstil aand.

aandblom

Ek lewe nog hoor!

10 Des

Laat ek nou eers mooi askies sê – vir die min skryf nou jy sien.  Ek soek nog my ritme op hierdie blad soos jul seker al van vorige pogings sal agterkom.  Dalk moet ek nie soek vir ‘n ritme nie en juis maar wag totdat ‘n klein gedagtetjie vorm aanneem.  Ek wil nie te ernstig wees nie, ook nie ‘n wil-ook-wees-nie.  Oorspronklikheid is nogal iets om na te streef – dalk is dit juis daar waar ek vashaak.

Ons probeer almal so hard dink ek, veral hierdie tyd van die jaar wanneer hy na ‘n punt toe loop om die lewe en sy sin te probeer verstaan.  Soms voel ek tog SO ernstig en dat ek dinge probeer verstaan.  

Maar dalk moet ek Ma se woorde wat sy eendag, lank terug, neergepen het.  Dalk moet ons ophou om die lewe te probeer verstaan, en liewer probeer om te lewe.

Image

Is daar eenvoudige advies hier?

24 Jun

Elke keer as ek nou rerig gaan SIT met wordpress … dan wil ek vroetel met die appearance en die FONTS! … veral aan die regterkant van my blog.  Dan beland ek erens waar ek moet betaal.  Kan iemand my ‘n paar eenvoudige links gee om op te kliek.  Maw … ek wil bietjie speel … maar ek sit nou al ure en raak net gefrustreerd.  Verwag ek te veel hier van WordPress?

Ek wil byvoorbeeld my blog se naam Hannahbi – bietjie meer regs gesentreer hê.

En Blinkgedagtes en Ekke  – ek wil daardie fonts ook verander.

2 ure later

en nou het ek mooitjies als opgeneuk!

 

nog later .. weer terug soos voorheen.  Sjoe!

Kuikens

18 Jun

Vanoggend vroeg het die tarentale soos gewoonlik die werf vol geskrop en ek is nou al gewoond aan ‘n piepende kleintjie wat benoud van sy ma geskei word – om gewoonlik weer later herenig te word.  Ek het ook altyd ingegee wanneer my kuikens meer as 3 keer gepiep  het – en als laat val om hul te red.  Soos hul ouer geraak het het ek probeer leer om net die desibels rerig hard te draai wanneer hul rerig benoud is – sodat ek kon skei tussen opgewonde gepiepengeid en benoude gepiepengeid.  Dit het meestal gewerk …

Om terug te kom na die geskeide piepende tarentaalkuiken – in elkgeval – die gepiepery het hard geword, dan stiller geword, dan harder geword en stiller geword en dan met volle volume die hoogste desibel bereik.  Ek was besig om my eerste koppie koffie te maak en die agtergrondgeluide nie baie ernstig opgeneem nie – jy moet verstaan – daar is omtrent 4 of 5 tarentaal families op enige gegewe tyd op die werf. …. en ‘n HELE klomp weke het verbygegaan!!!!

Ag ek gaan nou nie eers doekies omdraai nie – hierdie ‘draft’ lê al te lank hierin wordpress en nou wonder ek natuurlik wat was nou eintlik die draad van my storie!  Gmf …  daar’s nie meer tarentaalkuikens in my tuin nie – net die 2 groot kuikens wat nog in die huis bly.  Die ander dag hoor ek ‘n verskriklike gepiep hier naby die venster en ek gaan kyk toe en daar’s twee voëls wat albei opgewonde raak oor die enigste proteablom – daar hoog.  En die een is besig in die blom met sy lang bek en ek’s seker hy’t aspris sy vlerke so gedraai dat die son al die kleure van sy vere vir my wys.  Nogal indrukwekkend.  In elk geval – die ander voël piep asof dit die laaste blom in die wêreld was terwyl hy geduldig wag dat die een met die mooi flashy vlerke homself amper binne in die proteablom verdrink.   Ek het nog nooit so ‘n ge gevogelte gekerm gehoor nie!  En toe?  Toe is die kermende vogeltjie altyd ‘n baba – ‘n groot uitgevrete baba wat sy bek hou terwyl hy dit wyd oopmaak sodat sy ma haar snawel volbelaai met varsgesuigde proteasap leegmaak.  Kan jy nou meer … die baby was groter as sy Ma!

Dit laat my dink aan my eie 2 kuikers ….. tweede gmpf …. hul is albei groter as ek en hul kerm ook vir kos / geld / klere / koffie / isdaar-dan-niks-lekkers-in-hierdie-huis-nie / kan die heater maar nie aangesit word nie / ek kry SO koud …. ellelange gekermengeid …. maar van koppies was of die wasser volpak of die vuur maak voor Pappie huistoe kom of self hul bed opmaak!  Kan jy glo – lyk my dieselfde met daardie voël se baby!

Ek was so vies vir die arme Ma-voël se part dat sy so uitgebuit word dat ek my hande vervaard geklap het sodat die baby kon wegvlieg en die hygende Ma in vrede ‘n laaste suig uit die amper leeggesuigde protea kon kry.

Ek wens nogal dat iemand hier by my huis bietjie wil kom hande klap dat die kuikens van my bietjie kan wakkerskrik!

 

Maar, voor ek te veel kerm is ek ook diep diep dankbaar vir my raasbek uitgevrete vogeltjies …. nes ou blinkvlerkvoëltjie in my proteaboom – is ek ook maar net ‘n Ma – en die ma-instink in my vermurwe telkens onkant.  Wanneer my meisiekind ooparm van die hek af gestorm kom …. ‘maaaaaami – ek het jou vandag gemis’, of as sy my vertel dat haar vriendinne dink ek lyk so jonk vir my jare.  (waar’s my lipstiek nou weer voor die klokkie lui).  En as my behaarde, bebaarde lang-arms en bene my met een arm druk teen sy bors en die ander een ‘n koppie tee vashou – met baie melk – nes ek daarvan hou.

Lekker dag – wie jy ookal is wat nou nog lees.

Ag – en hier’s sommer iets wat my altyd laat smile.

Jy’s my Machiato …

 


 

Eenkant

Ag jinnekietog …

4 Apr

Ag jinnekietog – ek raak elke keer verbouereerd as ek hier kom en dan lyk alles so bleddie intimiderend!

Ek kry binne oomblikke ‘n warm gloed van benoudgeid as die leë blad vir my so lê en lag.  Ek kyk na mense se blogs wat elke dag getrou blog, en wonder en beny hul die onuitblusbare put waaruit hul woorde tuimel.  Moet hul iets drink of rook voordat hul skryf?  Moet mens baie hêng-ups hê sodat jy die opgekroptheid hier net kan uitstort soos my wasmasjienwater wat ek deesdae laat uitskiet buite in die slootjie om uiteindelik erens in ‘n bedding te beland en een of ander plant van die somer se droogte te red?

Behoort mens diep te dink en jou denke en tobbery vir ure lank eers in ‘n netjiese word-dokumentjie uittik, dit bietjie poliesh en skuur en skaaf todat dit skaflik en in sogenaamde aanvaarbare taal vir die hele heelal voorgesit word?

Of is dit dalk ‘n plekkie waar sogenaamde beheersde en gerespekteerde individue letterlik hulself toelaat om als oorboord te gooi en ‘n totale gedaanteverwisseling te ondergaan en woorde en tale te gebruik wat hul andersins nooit eers sal toelaat om hul denke se verwysingsraamwerk te oortree nie?

Is daar dalk ‘n blourokkietannie wat wanneer sy agter die skermpie inskuif in haar verbeelding visnetkousies en handskoene aantrek wat tot by die elmboë kom, so ‘n hasierige outfit wat haar nr 32 tieties verander  in 38E uitpeulpramme, haar dowwe bolla laat lostuimel in ‘n wilde woeste rooi krullebol en haar preutse lippies laat verander in ‘n pruilende bloedrooi vollipmond?

Image

Foto vanaf Internet

Ek wonder maar net – wie is hierdie  mense wat agter woorde skuil.

Ek het reggekom met ‘n kiekie, ek soek die ‘justify’ knoppie, ek wil graag die font groter maak en is hier dan nie ‘n preview knoppie nie?  Ag te hel met dit – nou gaan ek maar net publish post druk en hoop vir ‘t beste.

Dis weer Krismistyd

18 Des

Wat is dit met die tyd van die jaar wat mens so laat verlang?

Ek verlang na Ma en haar ‘hellokind’ as sy my sien en haar sagte grys krulle teen my wang

Ek mis haar ‘wag’nbietjie’ as sy die telefoon antwoord en die gehoordingetjie uit haar oor haal

Ek mis die blydskap in haar 95 jaar oue oe-e (waar is die damn oemlat vir die e nou weer?) – as sy my sien by die deur inkom van haar kamertjie

Ek mis die kinderlike blygeit in haar oe-e wanneer ek ‘n blommigheid uit my tuin vir haar gebring het

 

 

Ek verlang na die bekende kontoere van haar hande en ek tob ingedagte  terwyl ek haar trouring aan my middelvinger vroetelend streel

Ek verlang na haar bekende silhoe-et in die rottangstoel wat ek spesiaal vir  haar gekoop het

Ek verlang na die bekende tokklikgeluid van haar kierie as sy die gang afgekom het

Krismistyd – ai Ma ek verlang …

 

 

 

 

‘Elsies, Barro, Uintjies en Boetabessies …’ en my liewe Ma

2 Sep

Ek sit steeds Ma se Boek dikwels neer – want ek sukkel maar elke nou en dan met ‘n lastige knop in my keel en ‘n beklemming om my  hart.

Ma het grootgeword in die Hopefield Distrik aan die Weskus.  Haar Pa het ‘n plaas bestuur daar.  Swaar tye.  Arm tye.  Ma is 1914 gebore … so nou kry mens ‘n idee hoe lank terug was dit.

Ma skryf, …’Vrugte was skaars. Pa het darem kwepers gekry by een van die plase en dit rypgemaak bo op die kas en vir die winter gehou’ …en … ‘die velde was baie mooi in die lente en ons kinders het volop veldvrugte geëet.  Bv Elsies (so ‘n rankpeul met sappige melkvleis in die binnekat), Barroo, (groei onder teen die rietpolle), uintjies (ook ‘n knolkos), skilpadbessies, boetabessies, ens.’

Ma en die res van Ouma se kinders moes destyds van die plaas trek nadat Oupa skielik aan ‘n gebarste blindederm oorlede is.  Hy is  op die plaas begrawe en Ma was nooit weer terug nie.  So ‘n klompie jare gelede het ek die plaas gaan soek en gekry.  Die gawe  boer het my my Oupa se graf gaan wys, en ek het later my liewe Ma na amper 80 jaar teruggeneem plaas toe – en haar Pa (my Oupa) se graf gaan wys. So ver soos ons gery het, het die wonderlikste memories uit haar mond geborrel – soos juwele wat lanklaas uitgepak was.

Dit was ‘n juweel van ‘n dag saam met Ma en in ‘n skatkamer in my hart gebêre.

 

 

 

 

Ma se boek – sonder 20 tissues

31 Aug

Ek wonder waar is die lekker kuierblogs? Ek sal maar more weer kom inloer.

Nou gaan ek vireers maar in die bed klim met ‘n boek. En nie sommer so ‘n boek nie. Jy sien, my liewe Ma (die engele het haar kom haal toe sy 95 en en half was) het vir my 2 handgeskrewe boeke gelos. En tot nou kon ek dit nie lees sonder om in ‘n hopie hartseer te beland nie. Nou, na ‘n jaar en ‘n half, het ek weer op Ma se boeke afgekom – en toe ek op die 4de bladsy nog kon lees sonder dat my oë 20 tissues nodig gehad het, het ek geweet – ek sal nou Ma se boeke kan lees.

En nou bid ek ..

31 Aug

En nou bid ek dat hierdie blog in iets sal materialiseer …

Ek wil graag ‘n kiekie hier insit, maar na een lang glasie wyn, en ‘n paar uur word ek grys.

Is dit veronderstel om moeilik te wees? .. of kort ek nog  ‘n glasie wyn vir die senuwees.

 

 

ek dink ek het dit … ek voel half of ek handeklap kort.

 

Die volgende is nou om die foto bo aan die blog te verander … werk die blog?  ek wonder.  Dalk is dit soos wanneer mens loop in die tuin en fluit – net die paddas luister, maar hul sê niks.